Media24 se lojale Afrikaanse gehoor steeds 'n prioriteit

In 'n vinnig veranderende wêreld wat konstant eise aan gehore stel, is dit belangrik om lojale Afrikaanse gehore van uitnemende inhoud in hul moedertaal te voorsien. Media24 is die bewaarder van die sterkste, mees gevestigde Afrikaanse mediahandelsmerke en het 100 jaar se ondervinding in die voorsiening van uitnemende inhoud aan die Afrikaanse mark. "Ons weet wie ons gehoor is en hulle is lojaal aan handelsmerke wat hulle die langste van goeie waarde voorsien," sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24.
Esmare Weideman
Esmare Weideman

Op die oog af lyk dit maklik: bou innoverende platforms en vul dit met Afrikaanse inhoud en die gehore sal vanself kom. Maar soos enigeen weet wat dit al probeer het, is dit nie so eenvoudig nie.

"Ons moenie Afrikaanse gehore onderskat nie - hulle lees ook Engels," sê Weideman. "As ons Afrikaanse produkte nie gehalte-inhoud bied wat direk tot ons mark spreek nie, sal hulle na ons kompetisie oorgaan."

Deur die ondervinding te benut van handelsmerke wat oor die jare lojale gehore opgebou het, kon Media24 opwindende nuwe aanbiedinge skep om nie net daardie gehore te behou nie, maar ook nuwe gehore te lok.

"Media24 se moedermaatskappy, Naspers, was die baanbreker-eienaar van Afrikaanse nuustitels," sê Weideman. "Ons vier vanjaar Die Burger se 100ste bestaansjaar en is vandag die grootste Afrikaanse uitgewer van koerante en tydskrifte met ongelooflik lojale en betrokke gehore op alle platforms.

"Hulle wil media in hul eie taal lees, maar ons bied hulle boonop die beste produkte in die mark. Taal alleen lok nie gehore nie; uitnemende inhoud doen dit wel. En waar daar 'n mark is, veral een met koopkrag, daar kry jy jou bemarkers."

Die media en ander organisasies met 'n belang in Afrikaans, soos Pendoring, behoort saam te span om bemarkers te oortuig van die waarde van moedertaal-reklame aangesien daar nog waarde in dié sektor is, glo Weideman.

Media24 het oor die afgelope paar jaar verskeie produkte bekendgestel wat wys presies hoe dinamies die mark is - en hoe groot die honger vir Afrikaanse inhoud is.

"Ons het verlede jaar Netwerk24 bekendgestel, 'n digitale platform wat gehalte-inhoud van ons vier belangrikste Afrikaanse koeranttitels - Volksblad, Die Burger, Beeld en Rapport - bied en ons is baie in ons skik met die aanvraag," sê Weideman. "Kuier se sukses is 'n uitgewersfenomeen en die tydskrif se groei ken geen perke nie. Talle van ons Afrikaanse redakteurs, kommentators en joernaliste is supersterre wat boeke uitgee en op televisie en radio in aanvraag is."

Soos die behoeftes en leefstyl van die gehoor verander, so moet mediamaatskappye hul aanbod aanpas. Media24 fokus daarop om 'n alles-in-een-oplossing vir handelsmerkeienaars, adverteerders en bemarkers te bied, met wye trefwydte oor verskillende gehoorsegmente, sê Weideman.

"Ons is 'n innoverende, dinamiese maatskappy en ons bied pasgemaakte oplossings op al ons platforms. Ons is die baanbrekers in digitale media in Suid-Afrika. Netwerk24 is reeds die grootste betaal-nuuswerf in Suid-Afrika en produseer daagliks video-inhoud."

Video's gee die vertelkuns 'n ekstra dimensie wat adverteerders van nog 'n geleentheid voorsien om interaktief met die gemeenskappe te konnekteer wat rondom Media24 se handelsmerke ontstaan het, sê sy. "Ons glo video bied ons 'n toegevoegdewaarde-proposisie om uitsaai- en drukadverteerders toegang tot die digitale omgewing te gee en hulle 'n geteikende en betrokke gehoor te bied."

Die digitale sfeer maak dit ook vir hierdie gemeenskappe moontlik om met hul gunstelinghandelsmerke te kommunikeer en dit maak die ruimte toenemend dinamies. Handelsmerke moet tred hou met hoe, waar en wanneer gehore hul media wil geniet - en 'n hoë leweringstandaard verskaf.

Media24 het lankal digitale platforms begin skep, sê Weideman. "Wat 'n 24-uur-, digitaal-eerste nuusbedryf op al ons platforms betref, het ons enorme vooruitgang gemaak."

Daar is vanselfsprekend uitdagings. "Ons denke is op die regte plek, maar die uitvoering daarvan is nog nie vinnig genoeg nie."

Maar as inhoudverskaffers - op beide redaksionele en reklamegebied - dieselfde standaard handhaaf as vir ander platforms is hulle reeds op die regte spoor, glo sy. "Die vereistes om op digitale platforms te adverteer is dieselfde as op enige ander platform: dit moet uitnemend wees, verbruikers se hartsnare roer en hulle oorreed om op te tree."

Dié wat dit regkry, sien reeds die resultate. "Digitale verkope het deurgaans uitstekende groei getoon," sê Weideman. "Soos slimfoon-penetrasie toeneem en sodra breëband meer bekostigbaar raak, glo ons sal digitale subskripsies op ons titels en digitale verbruik op alle platforms toeneem."

Die potensiaal vir bemarkers is reusagtig as gevolg van die interaksievlak en kitsresultate, sê Weideman. "Gelukkig is die digitale omgewing, wat diverse bemarkingsruimte bied, meer meetbaar. Die uitdaging is hoe om reklameveldtogte en bemarking op die verskillende platforms te koppel sodat dit steeds sin maak. Dit verg skeppende uitnemendheid.

"Die Pendoring-reklametoekennings sal relevant bly mits dit die kompetisie vir bemarkers steeds opwindend, innoverend en aantreklik maak. Pendoring is die maatstaf vir uitnemende Afrikaanse advertensies en nou ook vir advertensies in al die ander inheemse tale, en ons steun dit met trots."

  • Die Pendoring-reklametoekennings se prestige-geleentheid vind op Vrydag 30 Oktober 2015 by Vodacom World in Midrand, Gauteng, plaas.

  • Pendoring
    Pendoring
    Pendoring is the platform that embraces country and industry to promote, unify and celebrate the richness of South Africa's creative content in all its indigenous languages.

     
    For more, visit: https://www.bizcommunity.com