Judy Kriel wys wie is die coolste by die 2014 Pendoring-Reklametoekennings

Judy Kriel het met haar Pendoring-inskrywing vir tieners gewys wat cool werklik is en in die proses het sy die coolste prys van almal losgeslaan - die toekenning as Algehele Studentewenner van vanjaar se 2014 Pendoring-Reklametoekennings.

Dié finalejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit het vanjaar met die top-studenteprys weggestap vir haar konseptuele werk vir MK Sosiale Televisie. In die veldtog het sy tieners en hul ouers se mode, tegnologie, vermaak en musiek uit elke generasie se cool era teen mekaar afgespeel om sodoende MK Sosiale Televisie deel van tieners se cool-leksikon te maak.

"Die veldtog is geskep om speelse identiteit vir MK Sosiale Televisie te skep. Ek het gewerk met die insig dat tieners tóg beïnvloed word deur nostalgie, maar dat hulle bowenal wil cool wees en inpas," sê Kriel, wat onlangs haar finale eksamens aan die Noordwes-Universiteit afgehandel het.

Die MK Sosiale Televisie-veldtog het eerstens 'n goue Pendoring en R6 000 verwerf in die EgSuid-Afrikaanse Geïntegreerde Veldtog-kategorie vir studente. Deur ook die prys as Algehele Studentewenner te ontvang, het Kriel 'n verdere R10 000 aan prysgeld en 'n internskap by TBWA\Hunt\Lascaris by haar pryse gevoeg.

"Die Pendoring-Reklametoekennings beteken geweldig baie vir 'n mens se loopbaan en dit is 'n gróót eer. Dit is lekker om beloon te word vir jou harde werk en om boonop 'n bydrae in Afrikaans te kan maak. Ek sien baie uit na wat voorlê," sê Kriel.

Pendoring se span beoordelaars was dit eens dat Kriel se werk kop en skouers bo die ander studente se werk uitgestaan het.

"Sekere studentewerk het met 'n puik konsep gespog, maar die uitvoering was nie van dieselfde gehalte nie. In ander gevalle was die konsep maar karig, maar die uitvoering puik. Hierteenoor het Judy 'n sterk idee gehad en dit boonop baie goed aangebied. Haar werk kon maklik in een van die professionele kategorieë 'n prys losgeslaan het," se Rob McLennan, uitvoerende skeppende hoof van King James II en hoofbeoordelaar van die EgSuid-Afrikaanse afdeling vir vanjaar se Pendoring-Reklametoekennings.

Die Noordwes-Universiteit het vanjaar die meeste finaliste en wenners in die Studente-kategorieë opgelewer. Naas Kriel het Janus Badenhorst en Anja Kocks elk 'n silwer Pendoring in die Studente: Geïntegreerde veldtog verwerf, en vyf NWU-studente-inskrywings is deur die beoordelaars as finaliste gekies.

Kriel het die verhoog met King James Kaapstad gedeel, wat die Umpetha-toekenning vir die beste Eg Suid-Afrikaanse advertensie gewen het met die advertensie "The Reader" vir Bell's Whisky. Geen Prestige-wenner is aangewys nie, en Japie Gouws,besturende direkteur van die ATKV en Voorsitter van die Pendoring-Reklametoekennings, het aangekondig dat die R50 000-prysgeld vir hierdie toekenning by volgende jaar se totale prysgeld gevoeg gaan word.

Die Pendoring-Reklametoekennings vier volgende jaar sy twintigste bestaansjaar.

Pendoring wil graag die volgende borge bedank:

Platinum: Ads24, ATKV, kykNET, Media24. Goud: Die Burger, Huisgenoot, Die Dagbreek Trust, Rapport, Toyota. Brons: Caxton-gemeenskapskoerante, Jacaranda FM, MyEdit, OFM en Sanlam. Vennote: Adlip, DEKAT, KWV, eVati-mineraalwater, kulula.com, Leopard's Leap Wines, Marklives.com, Newsclip, Sonovision, toeter.

Pendoring
Pendoring
Pendoring is the platform that embraces country and industry to promote, unify and celebrate the richness of South Africa's creative content in all its indigenous languages.

 
For more, visit: https://www.bizcommunity.com