PRESS OFFICE
LISTING
Homenewsabout usServicesTestimonialsContact Us
News

Verveling lei tot dinamiese firma wat blink in kommunikasiewese

'n Noodsaaklike kommunikasievennoot, of maar net spin-spesialiste? Ongeag van 'n mens se mening van die openbare-betrekkinge-bedryf se funksie, het me. Marie Yossava, eienaar van Grapevine Communications, dit op haar eie reggekry om in 'n oorvol mark maatskappye soos Samsung, National Brands en Oracle te oortuig dat sy waarde tot hul bedrywighede kan voeg.

Dié entrepreneur het tien jaar gelede, in Junie 1995 , met Grapevine as 'n alleenbedryf begin nadat sy voorheen as 'n openbare-betrekkinge-amptenaar vir 'n maatskappy gewerk het.

"Ek raak maklik verveeld," sê Yossava. "Vir 'n werkgewer moet jy jaar-in, jaaruit, dieselfde goed doen. Vir iemand wat daarvan hou dat dinge die hele tyd moet verander, het dit na 'n lekker uitdaging geklink om 'n verskeidenheid projekte vir verskillende kliënte te doen."

Tog sê Yossava dat sy haar besluit blindelings geneem het sonder om eintlik navorsing te doen -- 'n "naï ewe" besluit waaroor sy dalk langer sou nagedink het as sy geweet het hoeveel rolspelers daar reeds was.

Sy het begin sake doen vanuit 'n prokureursfirma se kantore vir wie sy voorheen gewerk het. Dié prokureur, en haar laaste werkgewer, was haar eerste kliënte.

"My eerste oogmerk was om koste laag te hou en kapitaal te bou terwyl ek my onderneming van die grond af probeer kry het," sê sy. "Ek weet van te veel mense wat glo jy moet met die beste van alles begin."

Vir Yossava was 'n tafel van die prokureurs, 'n stoel wat sy van haar huis af gebring het en 'n rekenaar wat sy met haar eerste salaris gekoop het, goed genoeg.

Hiervandaan het sy kliënte gewerf. Haar aanvanklike aanslag was om kliënte 'n een-stop-diens te bied en het alles self gedoen - hetsy die elektroniese uitleg van pamflette, die skryf van persverklarings of die organisering van 'n gebeurtenis se promosieprogram.

Yossava het bykans drie jaar alleen gewerk voordat sy haar eerste werknemer in diens gestel het. "Dit was een van die moeilikste besluite wat ek moes neem," sê sy. "Jy moet baie deeglik dink voordat jy verantwoording neem vir 'n ander persoon se inkomste. Maar dit was nodig gewees, sonder hulp sou ek nuwe sake-geleenthede van die hand moes wys."

Volgens haar was die eerste van twee "groot deurbrake" om die promosie van die Pecanwood-gholflandgoed by Hartebeespoort te behartig. Die kontak vir dié kontrak het sy by 'n troue ontmoet toe die persoon langs haar gesit het.

Die tweede deurbraak was 'n kontrak met die SABC, nadat 'n amptenaar beï ndruk was met die blootstelling wat Radio Safari, 'n gemeenskapsradiostasie vir die Krugerwildtuin en Yossava se kliënt, in die media gekry het.

Vyf jaar gelede het sy die onderneming se naam van Grapevine Public Relations in Grapevine Communications verander.

Dit het saamgeval met 'n keuse om net op mediaskakeling te fokus. Ander aspekte van openbare betrekkinge sou sy voortaan uitkontrakteer.

"Jy leer gou wat die media soek, stuur hulle eerder een sterk storie as 20 verklarinkies waarmee jy 'n joernalis se tyd mors."

Sy is intussen met 'n toekenning van die sakevrouevereniging (B WA) en Chris Moerdyk, bemarkingsghoeroe, vereer.

Yossava erken sy foute langs die pad begaan. "Ek het mense peanuts betaal en toe kry ek monkeys wat vir my werk," sê sy.

Volgens haar sal sy nou nie sommer iemand wat jonger is as 30 jaar, aanstel nie. Sy sal ook eerder 'n persoon met 'n agtergrond in joernalistiek, of bemarking, aanstel as 'n persoon met 'n "openbare-betrekkinge-diploma."

Sy het tans vyf "rekeningbestuurders" wat vir haar werk, waarvan elkeen in 'n sekere area, soos IT of voedsel, spesialiseer.

Terwyl sy nog nie 'n bemagtigingstransaksie aangegaan het nie, erken sy dat druk van kliënte hiervoor by die dag groter word.

"Dit sal nog kom," sê sy. "Maar in plaas daarvan om onder druk en paniekerig 'n besluit te neem, sal ek na die regte geleentheid soek tot dit opduik."

15 Aug 2005 09:03

<<Back